Die Boodskap

1994

Laat ons terugkeer na die skynbaar eenvoudige man, Petrus, wat op die dag van Pinkster die skare pelgrimgangers toegespreek het. Wat was sy boodskap?

Eerstens het Petrus ‘n gedeelte uit Joël aangehaal om te verduidelik dat sy vriende se snaakse gedrag die gevolg is van ‘n uitstorting van die Gees van God. Dan begin hy met sy verklaring: “Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet - Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word” (2:22-24).

Petrus haal ‘n ander gedeelte aan, hierdie keer uit die Psalms, wat die opstanding ondersteun. Hy gaan voort: “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor… Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het” (2:32-33,36).

Petrus se boodskap was ‘n verkondiging van Jesus! Dit was ‘n getuienis wat gelewer was met eenvoud, opregtheid en durf: “Julle weet dat julle ‘n goeie man doodgemaak het toe julle Jesus gekruisig het. Wat julle nie weet nie, is dat Hy lewe! Hy is verheerlik tot die regterhand van die Enigste Skepper van die Heelal, en selfs terwyl ons praat, heers Hy oor die skepping as die Gesalfde Een. Terloops, ons is getuies – ons weet vir ‘n feit dat hierdie dinge so is.”

Wat duisende van die toehoorders aan die hart gegryp het, was die verkondiging van Jesus deur die mond van een wie se lewe radikaal deur Sy opstanding verander is. ‘n Lewende, verheerlikte Jesus was die hart van die boodskap!

En wat van daardie man wat sy debateerders so woedend gemaak het – Stéfanus voor die Joodse Raad?

Na ‘n opsomming van Israel se aanhoudende, rebelse handelinge teenoor God, het Stéfanus afgesluit: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het” (Hand. 7:51-52).

Die leiers was woedend, soveel so dat hulle op hulle tande gekners het. Selfs op hierdie punt, nadat hy hulle direk verantwoordelik gehou het vir die kruisiging, kon Stéfanus moontlik nog met sy lewe daarvan afgekom het. Maar hy het olie op die vuur gegooi met hierdie plofbare stelling: “Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (vers 56). Die aanhoor hiervan het die leiers laat ontplof! Stéfanus se gebroke liggaam het binne minute in die straat gelê, en sy gees het ongeraak in die arms van Jesus gerus.

Weereens, wat was die hart van die boodskap? Wat was die krag daarvan? ‘n Man, “vol van geloof en van die Heilige Gees” (Hand. 6:5) en “vol van geloof en krag” (Hand. 6:8), het verklaar dat die gekruisigde Jesus nou lewend en verheerlik aan die regterhand van God was.

En wat van daardie vervolger wat apostel geword het, Saulus van Tarsus? Wat was sy boodskap? Hoe was hy aan die een kant ‘n instrument om sulke wonderlike gemeentes te laat groei en hoe het hy aan die ander kant sulke verskriklike oproer veroorsaak? Die gebeure in Listre, waar Paulus die een oomblik die inwoners moes probeer oortuig dat hy nie ‘n god was nie, en homself die volgende oomblik moes terugsleep na die stad nadat hy gestenig en vir dood agtergelaat is, was ‘n direkte gevolg van sy getuienis in Antiochië en Ikónium. Jode van hierdie stede het Paulus na Listre gevolg en “die skare omgepraat”.

In Antiochië het Paulus in die sinagoge gestaan en verklaar: “Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke sabbat gelees word. En al het hulle niks gevind wat die dood verdien nie, tog het hulle van Pilatus gevra dat Hy omgebring moes word. En toe hulle alles volbring het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in ‘n graf neergelê. Maar God het Hom uit die dode opgewek. En gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galiléa na Jerusalem, en hulle is sy getuies by die volk. Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word” (Hand. 13:27-31,38).

Van die mense in Antiochië “was bly, en hulle het die Woord van die Here geprys”, terwyl ander “lasterlike woorde” gespreek en “vervolging aangeblaas” het. Dus het Paulus aanbeweeg na Ikónium. Sy boodskap daar? “Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here.” Regdeur die boek van Handelinge kon die apostoliese getuienis opgesom word in hierdie woorde: “vrymoediglik gespreek in die Here”. Die reaksie in Ikónium was opsommend van die reaksie oral: “En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan” (Hand. 14:4). En so het Paulus spoedig uitgevind hoe Stéfanus gevoel het toe die klippe begin tref het!

af_hou_die.jpg jesuslifetogether.com
jesuslifetogether.com
Afrikaans Languages icon
 Share icon