Die Getuienis van Jesus

1994

‘n Ontploffing!

Daar is geen ander manier om dit te beskryf nie. Daar het ‘n boodskap ontspring uit ‘n stowwerige, half-vergete hoekie van die Romeinse wêreld. Eenvoudige manne en vroue het hierdie boodskap verkondig deur die woorde van hulle mond, die bloed van die Lam en deur hulle weiering om hulle eie lewens lief te hê. Hulle getuienis het vure dwarsdeur die ryk aangesteek ten spyte van vasbeslote pogings om die vlamme te blus. Die woord is kragtiger as die swaard bewys, en die wêreld was nooit weer dieselfde nie.

Wat was hierdie boodskap?

Die Geskiedenis Raak Vreemd

Onverklaarbare dinge het gebeur waar hierdie boodskap ook al ‘n vuur laat onstaan het.

Op ‘n lente-oggend in Palestina het ‘n skare godsdienstige pelgrims wat na Jerusalem gestroom het, begin vergader rondom ‘n klein groepie opgewonde, byna ligsinnige manne en vroue. ‘n Woordvoerder van die klein groepie – ‘n ongeleerde man met ‘n plattelandse aksent – het na vore gekom en probeer verduidelik: “Regtig, mense, ons lyk net dronk…”

Drie duisend van die pelgrims het binne ure alles versaak om hulle aan te sluit by hierdie klein groepie godsdienstige uitgeworpenes wat aanspraak gemaak het dat hulle volgelinge van ‘n tereggestelde misdadiger is.

Presies wat het daardie woordvoerder aan die skare gesê?

‘n Ander jong man van hierdie afvallige groep het jare later die uitdaging aanvaar om te debateer met sommige van die plaaslike verdedigers van die bestaande orde. Onmagtig om sy wysheid te weerlê, het sy teenstanders hom voor die nasionale regerende liggaam gesleep om sy standpunte aan te val. Hy lewer ‘n kalm lesing oor die geskiedenis van die nasie – beswaarlik die materiaal wat opstande laat ontstaan – maar sy slotparagraaf is ’n bom. Die konserwatiewe, waardige regeerders van Israel het op hulle tande begin kners. Die jong man verseël sy lot met een verdere sin. Steeds nie tevrede nadat hy gesien het hoe die klippe die lewe uit die spreker ruk nie, het een lid van die toeskouers sy lewe daaraan gewy om, op watter manier ookal, hierdie boodskap uit te roei .

Wat op aarde het daardie mense so ontstel?

Nog later het hierdie toegewyde teenstander van die nuwe sekte een van die mees kragtige voorstanders daarvan geword. Nou is dit sy beurt om te ly. Hy begin om dwarsdeur die hele ryk te reis, terwyl hy die boodskap verkondig wat hy eenmaal in bloed probeer verdrink het. Hy en ‘n vriend kom in een stad aan en doen ‘n onweerlegbare wonderwerk. Die inwoners wil aan hom offer as ‘n god. Tog, net dae daarna sleep hulle hom uit die stad en probeer sy lewe met klippe beëindig. Hierdie reaksie is beswaarlik ‘n uitsondering. Oral waar hy gaan veroorsaak hierdie lastige jong man ‘n oproer!

Watter boodskap kon sulke passie uitlok?

Hulle het dit die Goeie Nuus genoem, die evangelie. Dit is ‘n woord waarmee ons almal bekend is. Maar het ons regtig al gestop om die evangelie te bedink soos ons vriende uit die eerste eeu dit verkondig het?

af_hou_die.jpg jesuslifetogether.com
jesuslifetogether.com
Afrikaans Languages icon
 Share icon