SY UITNODIGING
Die uitnodiging van God aan die hele wêreld, is om ‘n tuiste te wees vir die Vader, Seun en Heilige Gees—om ‘n Bruid te wees wat haarself gereed gemaak het vir die koms van haar lieflike Bruidegom, Jesus.
2008
Van die begin af het hierdie uitnodiging mense aangespoor om na Hom te soek. Dit is Sy uitnodiging, ook aan ons vandag. Dit is waaroor dit alles gaan. Dit is nie maar net ‘n doktrine nie, dit is ‘n verlange na dit wat binne-in ons is. Dit laat ons na Hom kyk en sê: “Ek kan nie sonder Hom leef nie, of wat kosbaar en belangrik vir Hom is nie! Ek wil nie sonder dit leef nie! Ek sou nooit wil droom om buite Sy wil of buite Sy doel met my lewe te leef nie. Ek wil die Lam volg, waar Hy ookal gaan. Dit maak nie saak wat Hy in my lewe wil hê nie, Hy het dit! Hy is die Brood van die Lewe, in Wie ek al my behoeftes en vervulling vind. Hy’s die toonbeeld van leierskap, en goedheid en vergifnis en genade, waarsonder ek nie kan lewe nie – waarsonder ek nooit wil lewe nie! Ek wil Hom in Sy krag sien. Ek wil Hom in strengheid sien. Ek wil Sy goedheid sien. Ek wil Sy liefde en meegevoel sien. Ek wil Sy onbeskryflike wysheid sien. EK WIL BY HOM WEES! Ek wil elke woord hoor wat Hy sê. Ek wil nooit ‘n tree van Hom weg wees vir die res van my lewe nie. Ek kan nie my rug op Hom draai, net omdat ek met hoogmoed, traagheid of seerkry in my lewe sit nie. Ek kan nie my rug op Hom draai nie! Die versoeking is daar om dit te doen, maar die verlies sal te groot wees.
Jesus het al die kwaliteite: Hy is op 1000 verskillende maniere oplettend. Sy wysheid kan nie in woorde beskryf word nie. Dit is ons Meester. Dit is Jesus. Dit is nie ’n feë-verhaal nie. Dit is nie sommer ‘n storie omtrent ‘n god wat die wêreld geskep het en nou op ‘n groot wit troon sit nie. Dit is omtrent die Persoon van Jesus en Sy Vader wat oor ons regeer. As ons net sal aandag gee, as ons die tyd sou neem om Hom te ontmoet, is daar geen manier waarop ons Hom langer kan weerstaan nie. Die probleem is egter ‘n gebrek aan bereidheid om onsself oor te gee aan Sy ervare en liefdevolle hande. Sy betroubaarheid is ongelooflik. Ons kom egter nie naby genoeg om dit te sien nie, want ons hou onsself te besig met ons eie dinge, en is te onoplettend—en wil eenvoudig nie die tyd uitkoop om deur Sy liefde verblind te word of toe te laat dat hy ons harte steel nie.
Vader weet dat as ons die tyd afvat om in Sy Seun saam met Hom te wees, dan sal Hy Sy karakter aan ons demonstreer, sodat Hy vir ons onweerstaanbaar sal wees. Die kwaliteite van Sy karakter is geweldig. Daar is iets in die saamwees met Hom, wat jou sal uitruk uit al die dinge wat jou belemmer of belas en waardeur jy afgetrek word. Skielik is jy betower deur iets wat buite die raamwerk van die normale vloei van jou ervarings is. Dit is JEUS! En Hy nooi ons uit om saam met Hom die pad te loop. Hy sal jou betower met al Sy kwaliteite van goedheid, genade en ewige vergifnis.
Jy sal Sy glimlag en die glinster in Sy oë sien. Jy sal sien hoe die wind deur Sy hare waai. Jy sal dinge sien en hoor en ondervind, dinge wat jou na ‘n ander realm sal neem en tyd sal nie meer daar bestaan nie (Open. 1:12-18). Jy sal Sy leierskap en Sy krag sien. Jy sal sien dat Hy ‘n afkeer in sonde het. Jy sal sien dat Hy ‘n fokus en ‘n helder visie het, waaroor die lewe behoort te gaan. Jy sal Sy diep lag hoor en die warmte van Sy omhelsing voel.
Kom ons volg Hom. Hy sal jou Sy leierskap toon. Hy sal jou Sy sterkte toon. Hy toon jou Sy onbeweeglike karakter en kwaliteit-lewe wat jou sal betower, wat jou sal aanspoor om saam met Hom te kom, want, dit is veilig daar waar Hy is. Hy sal jou ‘n goedheid en sensitiwiteit toon, wat dwarsdeur jou hart en lewe kyk. As jy na Hom kom en jou misrabele lewe, wat só vol van jouself is, neerlê, dan sal Hy jou was en jou reinig en Sy Gees in jou plaas. Dan sal Hy die diamante en die roebies en die juwele uithaal, en sal Hy jou kroon as Koning en Koningin.
Hy wil graag ’n leër van volgelinge opbou. Dit is nie net een of ander teoretiese, logiese doktrine van—“Volg My of jy sal hel toe gaan” nie. Wel, dit is waar, maar dit het niks te doen met wat Jesus vir die twaalf kom wys het nie. Dink jy hulle het Jesus regoor die landstreek gevolg omdat Hy hulle met die vinger gewink het om Hom te volg, anders gaan hulle hel toe? Kan jy aan enige skrif dink wat dit vir jou sê, dat dit dit was wat Jesus vir hul gesê en gedoen het? Is dit wat Hy gedoen het toe Hy deur die nag met Sy Vader in gebed was? Het Hy gesê : “Vader, wys My wat Ek moet sê” en toe opstaan en sê: “Julle twaalf, kom saam met My of gaan hel toe” ? Nee,—hulle wou by Hom wees, omdat hulle iets omtrent Hom gesien het, wat hul verstom het. Hulle het Sy wysheid, goedheid en geduld gesien.
Hulle het sterk leierskap en ‘n standvastige karakter in Hom gesien. Hulle het iemand gesien wat die stampe van die lewe kon vat en kon vasstaan met ‘n glimlag om Sy mondhoeke en met dapperheid in Sy oë. En hulle wou soos Hy wees—hulle wou by Hom wees! Hulle wou nêrens gaan, behalwe om by Hom te wees, aan Sy sy nie. (Matt. 4:19-22. Joh. 6:68, Hand. 5:20, Hand. 3:19-20).
Hy het nie nodig gehad om hulle te dreig nie, en Hy dreig ook nie vir ons nie. Hy nooi ons uit om Hom te sien soos Hy is, Sy wonderbaarlike kwaliteite en die wonderbaarlike persoonlikheid wat Hy het, sodat ons by Hom wil wees, in hierdie lewe en hierna. Ek wil soos Hy wees wanneer ek grootword. Regtig, ek wil.
Dis nie meer lank nie, dan kom Jesus terug om Sy voorbereide Bruid te kom haal. Die wil van Vader is egter om nie net die Bruid te besoek nie, maar om die Bruid self te wees, …nie net om ‘n huis te besoek nie, maar om ‘n Huis te wees. As jy sou teruggaan tot in die Ou Testament, sal jy sien dat Sy begeerte nog altyd ‘n Huis was, nie net geredde mense as Sy eiendom nie. Sy begeerte is ‘n woning, ‘n plek waarin Hy kan woon op hierdie planeet wat Hy geskep het. Jesus vertel ons in Lukas 17, dat Sy Koninkryk nie hier of daar is nie, maar dis binne-in die mense wat die plek in hul hart vergroot het, wat die dinge van die wêreld, vleeslike begeertes, luste en ambisies uitgestoot het, om plek te maak vir Jesus in hul harte, soos Hy ons leer in Johannes 8. Dit is die natuur van die Eklesia, Sy lewende Liggaam en Kerk.
Jesus het nie net gekom om sonde te vergewe nie, hoe wonderlik dit ook mag wees, ook nie sodat ons net oor dit wat Hy geleer het kan nadink nie. Hy het gekom dat ons die ervaring kan hê om dieselfde Lewe te ondervind met die Vader, as wat Hy gehad het—nie net om hier te lewe, te sterf en hemel toe te gaan nie. Soos geskryf is: Hy het aarde toe gekom, sodat ons in “die krag van ‘n onvernietigbare lewe”, dieselfde gemeenskap en lewe en liefde met die Vader en Sy broers sou kon hê, as wat Jesus gehad het.
Om gered te word, is VER van die einde van die storie. Soos met Jesus se geboorte, is ons geboorte maar NET die begin van ‘n kragtige storie wat Vader in ons wil vertel. (Kol. 1:26-29, Gal. 4:19, Joh. 7:38). Sy begeerte is, dat Christus in ons gestalte moet kry en dat ons (Sy Mense, Sy Bruid, Sy Huis, Sy Eklesia) die volle heerlikheid van Jesus van Naseret op hierdie aarde sal verteenwoordig. God se begeerte is nie net om as enkeling Jesus te reflekteer nie, maar om tesaam, as ‘n eenheid, Jesus hier presies te verteenwoordig.
Die uitwerking van hierdie “onnaspeurlike rykdom”, sal afhang van hoe ons elke dag saam lewe. Godsdiens en christelikheid het ons deur die jare baie geleer omtrent Jesus en Sy Kerk. Dit het tyd geword dat ons aanbeweeg om van lering omtrent die kerk, na hoe om self die Kerk te wees (Efes. 3:10, Matt. 16:18).
Ons kan alleenlik Sy Kerk WEES en Sy lewe leef, as ons mekaar liefhet en ons lewe daagliks met mekaar deel. Ons help mekaar om Jesus beter te leer ken, deur mekaar te help om die sonde in ons lewe af te lê. Om ander lief te hê en vir ander om te gee, beteken om nie eerste aan onsself te dink nie. Dit is die lering van Jesus. Dit is hoe Hy gelewe het en nou verwag Hy dat ons ook so moet lewe. Hy het die voorbeeld kom stel. Dit is hoe die Bruid “gereed gemaak” moet word vir die terugkeer van haar Bruidegom, Jesus. Ons word liefliker en liefliker as ons leer om mekaar waarlik meer lief te hê. As ons ontslae raak van die eie ek en hoogmoed, wat die een van die ander skei, as ons ons harte gewilliglik oopmaak om kwesbaar te wees vir mekaar, dan sal die Gees van God, die Genade van God en die Liefde van God oor ons uitgegiet word… en dan sal ons ‘n lieflike Bruid wees, GEREED vir die terugkoms van ons Bruidegom, Jesus.
Dit is ‘n Kerk—om elke dag só te lewe, nie om die Huis van God te besoek nie, maar om die plek te wees waar God in Lewe. Dan sal ons huise, ons werksplekke, en ons kerk n eenheid vorm. Daar is nou nie meer hindernisse tussen my en jou en my huis en jou huis nie. Ek verban alle selfgesentreerdheid, hoogmoed, luiheid en ongeloof en gee om vir ander mense, soos Jesus my ook liefgehad het. Indien almal dit sou doen, vanaf die minste tot die grootste, sal Jesus Sy helende olie uitstort en ons tot ’n Kerk, ‘n lieflike Bruid salf. Jesus het nie gekom om ons ouliker of slimmer te maak nie. Hy het gekom, om ons Lewe in oorvloed te gee—om Sy lewe daagliks in mekaar te ondervind, nie om woorde wat geleen is te spreek of godsdienstige gebede te bid of te sing nie. LEWE!